Biografie

Brendan – die 21-jarige jong sangsensasie wat spog met ‘n hele rits ranglys treffers, topklas-verkope en ‘n tjok-en-blok optredeskedule, is aangewys as ‘n een van twaalf finaliste in die Cosmopolitan SA Sexiest Men 2018 kompetisie – iets wat diegene wat al met lam knieë moes kar se kant toe staan na een van sy optredes dit eens sal wees hy deur en deur verdien! Hy ding mee teen onder andere Rudi Witkowsky, Jesse Suntele, Josh Wantie en Blake Williams. Aanhangers kan hom ondersteun deur op Cosmopolitan se webblad vir hom te stem. Brendan is ook gekies as een van die deelnemers aan die agtste uitgawe van Tropika Island of Treasure, waar sewe bekendes – onder andere Melinda Bam, Karabo Mogane en Tumi Voster - en sewe deelnemers van die publiek in spanne – en op die agtergrond van die idilliese Maldives - deelneem vir ‘n prys van ‘n allemintige R1 miljoen in harde kontant.
Die kompetisie bestaan uit ‘n stel moeilike uitdagings wat deelnemers se ratsheid, handvaardigheid, koördinasie, uithouvermoë en intelligensie tot die uiterste sal beproef en sal vanaf 5 Februarie 2018 op SABC 3 uitgesaai word. Hierdie opwindende gebeure volg kort op die hakke van die vrystelling van Brendan se nuutste album, “Hy loop oop”, wat, benewens die titelsnit, ander danstreffers soos “Vanaand sê ek net ja”, en “Net ‘n bietjie”, tot twosteps soos “Ek gee jou my woord”, regdeur tot by rustiger snitte soos “Twee is beter as een”, “Jou mond is in die pad”, “Sal jy my vergewe” en ‘n pragduet, “In silhouette saam met my”, saam met Franja du Plessis insluit. “Al hierdie dinge het skielik op my pad gekom, maar dis ‘n baie opwindende tyd vir my en ek gryp elke geleentheid met ope arms aan”, sê Brendan. “Ek is innig dankbaar vir elke nuwe deur wat oopgaan, elke stem, elke bietjie aanmoediging, elke paar voete by ‘n konsert en elke album wat ek met iemand kan deel!”