Brendan Peyper se nuwe album loop oop

Home Peyper
May 5, 2017
Musiekvideo tref met 1 miljoen kyke
May 8, 2017

Brendan Peyper se nuwe album loop oop

 

Brendan Peyper wys waarom hy een van Suid-Afrika se mees in-aanvraag kunstenaars is met sy blinknuwe album, Hy Loop Oop – ’n album wat pols met lekkerkry en hom deur niks sal laat stuit nie!

Brendan het landwyd opslae gemaak en aanhangers oorgewen met ’n stem wat knieë lam kan sing, energiebelaaide ritmes en ’n ryk vermenging pop- en countryklanke met ’n sterk akoestiese ondertoon.

Die nuwe album bied dit alles en meer in 15 uitsoeksnitte, waar elektro-elemente ook by hierdie wenresep ingemeng is, saam met kitaar, drom, klawers, banjo en bekfluitjie. Dit spel meer ritme, nog meer skop, nog meer tong in die kies bekkigheid en nagenoeg ’n uur se pure partytjiegenot vir jonk en oud!

Van danssnitte soos Hy Loop Oop, Vanaand Sê Ek Net Ja, en Net ’n Bietjie, tot twosteps soos Ek Gee Jou My Woord, regdeur tot by rustiger snitte soos Twee Is Beter As Een, Jou Mond Is In Die Pad en Sal Jy My Vergewe is hierdie album een wat aan ’n wye verskeidenheid musieksmake sal voorsien en jou nie vir soveel as een snit sonder ’n glimlag op jou gesig sal laat nie.

Die lirieke vorm sonder twyfel die getuigskrif van ’n meer volwasse Brendan, maar vloei steeds met presies daai selfde oemf wat oor die afgelope twee jaar of wat sinoniem geword het met sy naam.

Uitstekend verwerkte dekweergawes van Laurika Rauch se Stille Waters en Province Medley is ook by die album ingesluit – een ’n rustige en sielvolle laaste dans propvol verlange, die ander ’n voetstamp-lekker keurspel van die saamsing-treffers Province Province Die Currie Cup Kom Weer, Suikerbos, Hier’s Ek Weer en Loslappie.

’n Verdere hoogtepunt van hierdie album is In Silhouette Saam Met My, Brendan se duet met Franja du Plessis, waar twee van die land se gunsteling jong stemme verenig in ’n snit wat jou – hart, kop, voete en al – dansvloer toe sal sleep!

Die titelsnit stel die kernboodskap van dié album baie mooi duidelik: “Draai die krane oop, laat waai, dis heuning laat hom loop!”

Klik hier om die album te koop op iTunes.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

4 × 3 =